2006-10-18

Beeld, Maandag 17 Oktober 2005, p. 12: Elke mens kan ander seermaak

Yolande Dreyer se rubriek in Beeld.

Mense word getraumatiseer deur rampe soos aardbewings en vloede, kanker of vigs. Mense word ook seergemaak en getraumatiseer deur ander mense. En mense word heelgemaak deur mense.

Die uitdaging van die handboek aan 'n klompie studente besig met traumaberading, is om heel te maak, nie seer te maak nie.

Dit klink eers vreemd. Hulle is dan die helpers. Hulle sal mos nie seermaak nie!

Maar dit is nie so eenvoudig nie. Mense wat seermaak, sê die boek, is nie net hulle daar ver nie.

Dit is nie net die skurke, dié wat 'n skroef los het of die "slegte" mense nie.

Ons het dit almal in ons om ander stukkend te maak.

Elke mens het 'n donker kant, ondanks ons Christenskap en beste bedoelings.

Om 'n ywerige gelowige te wees, is lank nie 'n waarborg vir goedheid, verdraagsaamheid, respek vir ander, oftewel "naasteliefde" nie.

Wie was meer vurig vir die saak van God as Saulus? Hy het mense doodgemaak omdat hulle "teen God" was.

Sou God bly gewees het daaroor? Sou God iets wou sê soos: "Mooi so, goeie en getroue dienskneg. Dankie dat jy die mense reggesien het ter wille van my naam"?

Aan die verloop van die verhaal klink dit nogal nie so nie. Die mense wat deur Saulus doodgemaak is vir God, was toe al die tyd nie teen God nie. Hulle was net anders as Saulus se idee van hoe dit moes wees.

Eers toe Saulus dramaties tot stilstand gebring en met homself gekonfronteer is, sien hy wat hy besig is om te doen.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home