NG Kerk ‘moet Moslems nadoen’
Neel Jackson se berig oor Harald Pakendorf se toespraak by die NG Kerk se Lentekonferensie.
’n Bekende politieke ontleder het gister ’n Moslem-hulporganisasie aan die NG Kerk voorgehou as ’n voorbeeld van wat dié kerk in Suid-Afrika moet doen.
Mnr. Harald Pakendorf het tydens die NG Kerk se lentekonferensie in Pretoria dié kerk uitgedaag om soos die hulporganisasie Gift of the Givers betrokke te raak by nood in die samelewing.
Dié organisasie is gewoonlik een van die eerstes om te help ná groot rampe in Suid-Afrika of in die buiteland.
Pakendorf het verwys na ’n brand wat eergistermiddag honderd plakkershutte in Alexandra, Johannesburg, vernietig het en gesê die dominees moes eintlik daar gewees het om mense te help pleks daarvan om na hom te kom luister.
Hy het gesê hoewel hy weet daar is uitreikaksies in gemeentes, wens hy die NG Kerk wil ’n groot gekoördineerde aksie begin soos die opheffingsprojek van Afrikaners in die 1930’s.
Pakendorf het die kerklui aangemoedig om te help bou aan die diverstieit in die land. Hy het egter gemaan teen dié soort klem op diversiteit wat Afrikaners altyd as ’n afsonderlike groepie beskou aan wie niemand anders hulle later steur nie.
Pakendorf het ook gesê Afrikaners moet toegee dat hulle op groot skaal drooggemaak het in die land. Hulle het ’n volk se bestaan hoër laat geag as geregtigheid en nie gebly by die waarheid om só te regeer as wat jy regeer wil word nie.
Hy dink nie mense besef watter sielkundige gevolge daar is by baie mense as gevolg van dit wat Afrikaners in die verlede gedoen het nie.


0 Comments:
Post a Comment
<< Home