2006-09-13

GODSDIENS PERSPEKTIEF: Ietsisme vir Christene groot uitdaging

Johann Symington se rubriek in Die Burger.

DIT wil voorkom of dié wat gedink het dat hulle die laaste kluit op die graf van godsdiens gegooi het, moet ligloop. Godsdiens spook weer in die hart van al hoe meer gesekulariseerde Westerlinge.

“Die 20ste eeu was, teologies gesien, een van die goddelooste eeue in die geskiedenis van die mensdom en daarom, humanitêr gesien, katastrofies,” skryf Wolfram Weiner, oudredakteur van die Frankfurter Allgemeine Zeitung en tans hoofredakteur van die Switserse maandblad Ciccro. Daar is ’n groeiende heimwee na God. “Die terugkeer van ’n re­li­gi­euse bewussyn word oral bespeur. God is weer daar.”

Weliswaar nie terug in die kerke nie. Terwyl lidmaatgetalle taan, is daar die tendens om eerder afskeid te neem van die idee van ’n “persoonlike God” soos dit in die Christendom geglo word, maar vas te hou aan “iets” wat nie gedefinieer kan word nie, maar wat beteken dat in die afskeid van die ortodoksie tog iets oorbly van ’n minimale vorm van geloof.

Die Nederlanders het ’n woord vir dié verskynsel. Hulle noem dit “iets­isme” – ’n ietsie van alles, maar niks in volle maat nie. Dit is meer as die nietsisme (waarin ’n mens in geen religieuse verskynsels glo nie) of die klassieke agnostisisme of die apatiese relativisme, en staan positiewer teenoor die idee van godsdiens.

Dit is dalk ook iets meer as die soloreligie, waar afskeid van die geloof geneem is, maar die verlange bly knaag. Die misterie is sterker as die dogma.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home