2006-09-30

‘Dominees moet kerk uit sy winterslaap red’

'n Berig van Neels Jackson oor Johann Symington se toespraak by die Lentekonferensie van die NG Kerk.

Dominees moet geestelike wysgere wees wat mense in ’n ontmoeting met God bring as hulle die kerk uit sy winterslaap wil red.
Dít was ds. Johann Symington, direkteur van kommunikasie van die NG Kerk, se boodskap gisteroggend by dié kerk se lentekonferensie in Pretoria.
Volgens Symington is hy gevra om te praat oor die lente in die bediening, maar dit lyk eerder of die kerk in ’n winterslaap is.
Hy het gesê dis nie weens ’n gebrek aan probeer dat dinge verkeerd geloop het nie.
Hy het vertel van ’n Europese predikant wat al die truuks in die boek probeer het – van gemeenskapsbetrokkenheid en kleingroepe tot mistieke en charismatiese opsies – maar sy kerk het bly leegloop.
Symington het gesê hedendaagse mense leef in ’n materiële paradys, maar hulle is ongelukkiger en eensamer as ooit. Hulle besef al hoe meer dat geld hulle nie gelukkig maak nie.
In dié omstandighede behoort die kerk met mense oor God te praat. “Kerke blom daar waar die hoofsaak is dat ’n ontmoeting met God sal plaasvind,” het Symington gesê.
Hy het ook daarvoor gepleit dat die kerk op kreatiewe en verbeeldingryke maniere oor God praat.
As ’n dominee op die preekstoel klim, moet hy nie net die uitlêer van ’n Boek wees wat ’n droë preek bring nie. Hy moet ’n towenaar wees. Hy moet mense laat proe hoe soet God is, het Symington gesê.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home