Allan Boesak weer terug in die moderatorstoel
Allan Boesak is as moderator van die Kaaplandse streeksinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk verkies.
Twintig jaar nadat hy tot moderator van die destydse NG Sendingkerk se algemene sinode verkies is, het dr. Allan Boesak weer ’n moderatorstoel ingeneem.
Hy is op die Kaaplandse streeksinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Belhar tot dié amp verkies. By verlede jaar se algemene sinode het Boesak die moderatorskap misgeloop en is hy tot assessor verkies. Sy terugkeer na die moderatorstoel in dieselfde sinodesentrum in Belhar kom nadat Boesak ’n aantal jare in die kerklike wildernis was ná sy egskeiding, terwyl hy ’n kortstondige politieke loopbaan gevolg het en toe hy van diefstal aangekla en tronk toe gestuur is.
Die 60-jarige Boesak het gister gesê sy verkiesing is vir hom iets besonders. Hy het aan die sinode gesê dat dit nie net die verkiesing van ’n moderator was nie, maar die terugverwelkoming van ’n seun van die kerk.
Die sinode het dit gister boonop gevier dat die belydenis van Belhar presies 20 jaar gelede deur die Sendingkerk as vierde belydenisskrif van die kerk aanvaar is.
Met versoening wat een van die kernsake van dié belydenisskrif is, was Boesak gister ook opgewonde oor die eerste rondte gesprekke oor kerkeenheid deur die sinode.
Die sinode het gepraat oor die vraag oor watter soort kerk hulle wil wees en daar was instemming met die gedagte dat die VGK in die proses van eenwording offers sal moet bring en bereid moet wees om die eerste tree te gee.
Hoewel daar nog geen besluite geneem is nie, het hy gesê hy kan nie voorsien dat die sinode ’n ander koers sal inslaan as wat die kerk se algemene sinodale kommissie gedoen het nie. Saam met Boesak het die sinode vir ds. Lukas Plaatjies (assessor), dr. Mary-Ann Plaatjies-Van Huffel (aktuarius) en ds. Avril Rust (skriba) tot die moderatuur verkies.


0 Comments:
Post a Comment
<< Home