Hoe diep loop ons moraliteit?
Coenie Burger, moderator van die NG Kerk, se rubriek in Maandag se Beeld.
’n Mens is regtig dankbaar vir die Heartlines-mense se poging om ’n nasionele gesprek oor morele waardes aan die gang te kry.
Ek het groot waardering vir die mediese dokter en sy span wat met moed, visie en verbeeldingskrag ’n baie lofwaardige projek aanmekaargesit het. Ons het dié gesprek baie, baie nodig.
Die kommentaar wat ek oor die rolprente hoor, is oor die algemeen baie positief. Daar is ook vrae en kritiek – maar dit is alles deel van so ’n gesprek.
Ek weet van baie gemeentes wat deelneem aan die projek en wat getuig dat dit nuwe gesprekke in die gemeentes losgemaak het. Dit is presies wat ’n mens gehoop het.
Ek dink dat die projek in veral drie opsigte geslaagd is:
Die verhale oor gewone mense se gewone lewe illustreer hoe sentraal waardes in almal van ons se lewe staan en hoe ons daagliks op meer maniere keuses doen waarin ons waardes weerspieël word.
Verder was daar wonderlike oomblikke in die verhale wat mense weer laat besef het hoe leeg en betekenisloos ’n lewe sonder waardes kan wees. Van die mooiste en edelste dinge in die lewe – sien ’n mens weer met die prente – is mense wat bereid is om op te staan vir dit wat goed en reg en waar is.
Ek het, derdens, ook waardering gehad vir die variasie van waardes wat aan die orde gestel is.
Mense kan soms baie selektief wees in hul keuse van waardes wat hulle belangrik ag. Ons het ’n goeie mengsel van sosiale en persoonlike waardes gekry.


0 Comments:
Post a Comment
<< Home