Die kerk is toe nie 'n gebou nie
Dit is die mening van Stephan Joubert in die rubriek Godsdiens-Aktueel in vanoggend se Beeld
Die kerk se grootste gevaar is om al hoe meer na binne gekeer te leef.
Kyk maar net waaraan bestee kerke die meeste van hul tyd, energie en geld, en waarop fokus hul voltydse personeel hul energie. Gaan dit oor selfinstandhouding, of oor die konkrete uitleef van die e vangelie?
Kortom, is gemeentes se bedienings primêr ingestel op die transformasie van die samelewing volgens die Bybelse bloudruk? Word gelowiges effektief toegerus om die kerk op die regte maniere relevant in die wêreld te maak, daar waar Jesus die meeste van sy tyd op aarde deurgebring het? Watter kerkmense se beste vriende is tollenaars en sondaars, soos wat dit die geval met Jesus was? Of is kerke maar net 'n klompie lewensvreemdes wat ver weg van die "bose wêreld" agter oorvol kerk programme en -vergaderings skuil?
Die kerk, soos wat die Bybel dit verstaan, is in die eerste plek mense van vlees en bloed, nuwe mense met Jesus se klere én kleure wat sy lewensgeur elke liewe dag op elke moontlike plek by elke ander mens is. Kerkwees gebeur in die daaglikse lewe teen die spoed van 24/7.
Nee, die kerk is toe nie 'n gebou nie. Kerkgeboue is hoogstens die gimnasiums, die geestelike oefenplekke van die Here se mense, maar dis nog nie die kerk self nie. In kerkgeboue kom gelowiges gereeld saam om toegerus te word. Daar sak hulle weekliks in die wegspringblokke, maar die resies word elders gehardloop.
Kyk mooi. In die strate, hospitale, sportvelde, skole, huise en gehuggies lê Jesus se voetspore rond. Ons moet Hom maar net van agter inhardloop en kyk wat Hy daar doen.


0 Comments:
Post a Comment
<< Home