2006-04-17

Die Apokriewe boeke van die Bybel

'n Artikel oor die apokriewe boeke van die Bybel.

As jong seun het Jesus sy pa, Josef, gehelp om houtwerk te doen.

Op 'n dag was Josef besig om vir 'n ryk man 'n bed te maak. Een van die onderdele van die bed was 'n kruisbalk. Daarvoor moes hy twee stukke hout hê wat ewe lank is. Maar die een stuk hout wat hy gehad het, was te kort.

Toe Jesus sien wat die probleem is, het hy vir sy pa gesê om die twee stukke hout neer te sit sodat die punte aan die een kant gelyk is. Jesus het aan die ander kant gestaan, die kort hout se punt geneem en dit gerek totdat dit net so lank as die ander een was . . .

Dít is een van die verhaaltjies wat vertel word in die Kindheidsevangelie van Tomas, een van die talle Nuwe Testamentiese apokriewe boeke (boeke wat nie in die Bybel opgeneem is nie) wat onder vroeë Christene in omloop was.


Prof. Jan van der Watt, mede-samesteller en skrywer van die boek Apokriewe Ou en Nuwe Testament wat einde verlede jaar verskyn het, sê baie verhale van die Nuwe Testamentiese apokriewe was verbeeldingsvlugte van vroeë Christene wat "leemtes" in die Bybelse evangelies wou aanvul.

In die Bybel lees 'n mens baie min oor Jesus se kinderjare. Daarom het mense allerlei verhaaltjies geskep oor wat tydens Jesus se kinderjare sou gebeur het. Dié verhale sou ook opvattings oor Jesus bevestig.

0 Comments:

Post a Comment

<< Home