2006-03-23

Vandag se dagstukkie

Hier is vandag se dagstukkie wat deel is van die 40 dae van fokus op ons verhouding met die Here. Die tema hierdie week is VERTROU op die sorg van die Here.

Lees eers: Mk 4:35-41 en Matt 6:22-32

Die dissipels was bang gewees ... baie bang. Die storm was vir hulle nie net onstuimige waters nie—nee, vir hulle was dit die bose self wat hulle wou vernietig. In die Joodse kultuur het die see die magte van die bose verteenwoordig. (Daarom sal daar op die nuwe aarde nie meer ‘n see wees nie—vgl Openbaring 21:1-5.)

In Markus lees ons dat Jesus die see stil maak! Jesus oorwin die bose op ‘n kragtige manier. Wanneer die lewe ons boot skud kan ons maar weet dat Jesus daar is om die storm—veral die storm in ons binneste—te kom stil maak. Ja, die bose wil alles in sy vermoë doen om ons van ‘n oorvloedige lewe te ontneem. Die bose sal ons lewensboot op allerhande manier wil omkeer. Maar laat ons dan nie “kleingelowig” wees soos die dissipels nie!

In Matteus het ons ‘n soortgelyke toneel: ook ‘n storm op die see. Maar daar is een verskil: Jesus is nie op die boot nie! Waar is Jesus? Hy loop op die see! Die bose hou nie vir Hom ‘n bedreiging in nie. Hy oorwin die magte van die bose.

Ons kan ook in ons lewens die magte van die bose oorkom. Ons kan ook op die see loop—soos Petrus. Die bose wat dreig om ons te verswelg en al die lewe uit ons uit te pers kan oorwin word! Ons hoef ons nie deur omstandighede te laat onderkry nie. Ons hoef nie vir mense te sê: “Dit gaan goed onder omstandighede” nie. Ons kan bo-op die omstandighede wees!

Maar dan moet ons ons oë op Jesus gevestig hou en nie soos Petrus wegkyk nie. En, ons moet bereid wees om uit die boot te klim! Wáág dit met God!

0 Comments:

Post a Comment

<< Home