Vandag se dagstukkie
Hier is vandag se dagstukkie wat deel is van die 40 dae van fokus op ons verhouding met die Here. Die tema hierdie week is VERTROU op die sorg van die Here.
Lees eers: Psalm 40:1-5
In hierdie Psalm lees ons die woorde van iemand wat die hulp van die Here eerstehands ervaar het. Sy sê dat sy gesmag het na die hulp van die Here. Ons lei hieruit af hierdie persoon desperaat was. Sy het geen uitkoms meer gesien nie. Sy was hooploos en moedeloos.
Hoeveel keer bevind ons nie onsself in so ‘n situasie nie?
Die Here wil jou vandag kom verseker dat Hy, net soos Hy met die digter van die Psalm gedoen het, na jóú toe wil afbuig en jou red—selfs al is dit “uit die put van die dood”.
Ons hoef nooit te wonder waar ons hulp en redding vandaan sal kom nie. In alle omstandighede kan ons weet dat die Here nie ver is nie.
Die Here wil altyd vir ons “vaste grond” gee om op te loop en ‘n “nuwe lied” in ons mond kom lê. Die Here staan altyd gereed om vir ons nuwe lewensmoontlikhede te kom oopbreek—maak nie saak hóé vasgeloop ons voel nie.
Ons is geneig om wanneer die lewe druk ons hulp te gaan soek by “duister magte” en “skyngode”. Hierdie Psalm wil ons kom verseker dat dit goed gaan met mense wat hulle vertroue in die Here stel.
Vandag wil die Here vir jou kom sê dat daar altyd nuwe hoop en nuwe lewe moontlik is. Maar dan moet jy jou vertroue op Hom plaas. Hy is die enigste wat werklik kan help en red. Die Here se arms is sterk en is nooit te kort om te help nie!


0 Comments:
Post a Comment
<< Home