Lees eers: Psalm 13; Lukas 15; Efesiërs 2:19
Die Here het ons deel gemaak van ‘n wonderlike huisgesin—die gemeente. Binne ‘n gemeente is ons mekaar se broers en susters en is ons daar vir mekaar en help ons mekaar. Maar die wonderlikste van alles is dat ons binne hierdie huisgesin ‘n Vader het wat vir ons omgee en vir ons sorg.
Baie mense het nie goeie ervarings van hulle aardse pa’s nie. Daarom is dit vir hulle moeilik om die Vaderskap van die Here waarlik te beleef. Dit is jammer dat dit so is. As dit so is in jou geval, dink aan die Here as die ideale vader. Die ideale vader is iemand wat onvoorwaardelik vir jou lief is, wat jou met groot liefde rig en lei (en soms dissiplineer as dit nodig is!), wat ingestel is op jou behoeftes en vir jou sorg.
Die hoe die Here is! Hy is ook ‘n Vader wat enige tyd van die dag vir jou tyd het. Jy kan te alle tye na Hom toe gaan as jy ‘n bietjie by Hom wil wees, as jy met Hom iets wil deel van wat in jou lewe aangaan (Hy stel regtig belang en wil graag hoor!), of as jy iets nodig het of in die nood is.
Hy verstaan selfs as jy soms ‘n bietjie kwaad raak vir Hom—of dalk sommer baie kwaad is vir Hom! Die Here weet in alle geval wat in jou hart omgaan en dit help nie om dit vir Hom te probeer wegsteek nie. As jy kwaad vir die Here is, praat met Hom daaroor. (Soos die skrywer van Psalm 13.) Moenie net wegbly nie.
Onthou altyd: die Here is jou Vader wat jou liefhet en vir jou sorg.
Gebed:
Hemelse Vader
Dankie dat U regtig vir my ‘n Vader is! Ek wil sommer vandag nog met U praat ...
Amen


0 Comments:
Post a Comment
<< Home