Aksie Arbeiders vir die Oes

Matteus 9:36-38: Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was, moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie. Hy sê toe vir Sy dissipels: 

 

"Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir Sy oes." 

 

Wie is 'Aksie Arbeiders vir die Oes'?  

'Aksie Arbeiders vir die Oes' is 'n interdenominale sendingorganisasie, onder geestelike toesig van die kerkraad van die N.G. Gemeente Pretoria (voorheen Arcadia). Die organisasie is dus onafhanklik, sy bestuur funksioneer selfstandig en ressorteer nie onder 'n ander liggaam nie. Om geestelik verantwoordbaar te wees, het Aksie Arbeiders vir die Oes 'n kerkraad genader om sy leer en lewe te monitor en hom aan hulle geestelike toesig onderwerp. Aksie Arbeiders vir die Oes is 'n vrywillige vereniging sonder winsoogmerk. 

 

Ontstaan 

Aksie Arbeiders vir die Oes het sy wortels in die Matlala-uitreiking, waarvan die eerste uitreiking op 3 Oktober 1986 plaasgevind het, nadat ondersoek in Desember 1985 by Matlala Sendinghospitaal ingestel is deur drie verspieders. Hierdie werk het vanuit die NG Gemeente Arcadia se BKJA sendingdiensgroep begin en vind nou al vir veertien jaar elke jaar plaas. In 1990 het interdenominale betrokkenheid in Mamelodi gelei tot die stigting op 19 Januarie 1991 van die Mamelodi Good News Youth Club.

Gaandeweg het hierdie projekte gekombineer tot 'n interdenominale aksie met uitreikwerk saam met 'n verskeidenheid Christen jongmense. Daar is opgemerk dat hierdie jongmense wat betrokke geraak het, 'n vernuwing in hulle geestelike lewe en 'n groterwordende sendingywer ontwikkel het. Só het die gedagte ontstaan om 'n sambreelorganisasie te stig om hierdie realiserende visie van sendingmobilisering te akkommodeer. Hierdie gedagte is deur Jan van Jaarsveld in sy dagboek as 'Aksie Arbeiders vir die Oes' op 30 November 1993 aangeteken, nadat dit sedert April van daardie jaar begin vorm aanneem het. Op 3 Januarie 1994 het Aksie Arbeiders vir die Oes begin realiseer. 

 

Belydenis  

Aksie Arbeiders vir die Oes staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat ons in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in: 

Naas hierdie Gereformeerde Kerklike Belydenis met sy geïmpliseerde sending-dimensie, wil Aksie Arbeiders vir die Oes, as sendingorganisasie, ook 'n spesifieke belydenis hê rondom sy sendingintensie. Ons kies dan die Drie-dimensionele sendingmodel waarmee ons verklaar dat ons by die hele mens in sy hele situasie betrokke wil wees, as antwoord op die hele evangelie. In die praktyk kom hierdie dimensies neer op die volgende: 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus Christus, Sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is, en neergedaal het na die hel; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader; van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het. Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan 'n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees en 'n ewige lewe. 

 

Ons Sendingbelydenis (volgens die Drie-dimensionele sendingbegrip) 

Ons glo dat: 

(Met erkenning: Kritzinger, J.J. 1988. Die onvoltooide Sendingtaak in SA. Pretoria: ISWEN) 

Terug na bo ...

 

Geestelike Groei 

Aksie Arbeiders vir die Oes is 'n interdenominale sendingorganisasie. Alhoewel ons nie 'n kerk is nie, wil ons tog 'n arm van die Kerk wees. 'Kerk' impliseer die een algemene Kerk van God soos in die Apostoliese Geloofsbelydenis bely word. Dus, alhoewel ons nie die volledige rol van 'n plaaslike gemeente vervul nie, wil ons die plaaslike gemeente dien en 'n struktuur wees om sy / haar sendingtaak te fasiliteer. 

Dit is ook duidelik uit die Woord van God dat die werk van God nie buite die Kerk plaasvind nie, maar juis binne die Kerk. Daarom onderwerp ons, ons vrywilliglik aan geestelike toesig onder die kerkraad van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Pretoria (Arcadia Kerk), met wie ons ook 'n historiese band het. 

Op grond van Matt. 18:15-20 rig ons dan ook 'n uitnodiging aan enige ander denominasie, gelowige of organisasie om met ons in gesprek te tree indien dit blyk of daar enige dwaling in ons leer of lewe mag voorkom. 

 

Brief ten opsigte van geestelike toesig >>>

Terug na bo ...

 

Interdenominale Organisasie  

As interdenominale organisasie is dit ons doelwit om geestelik ekumenies te werk te gaan. 'Geestelik ekumenies' verwys na interkerklike geestelike kontak deur middel van gesamentlike evangelisasie en betrokkenheid by die gemeenskap. Die strewe van Aksie Arbeiders vir die Oes is om tot eenheid van diens en getuienis te kom in 'n sondige, verdeelde en lydende wêreld. 

Die toetrede van gelowiges tot mekaar is nie 'n sekondêre saak nie. Hulle tree nie bloot in gemeenskap tot mekaar om hulle geloof oor en weer te versterk nie, maar omdat die gemeenskap 'n deel van die geloof is. Die modus van verlossing is eenheid onder gelowiges. 

Aksie Arbeiders vir die Oes wil nie mense van hul kerk of kerkverband vervreem nie, maar hul juis aanmoedig tot betrokkenheid in hul gemeentes. Ons wil in belang van plaaslike gemeentes optree en 'n diens vir hulle lewer. 

By Aksie Arbeiders vir die Oes skakel mense dan in as voltydse en deeltydse werkers van verskillende denominasies. Omdat ons só ekumenies te werk gaan, wil ons ons nie bemoei met bespreking van leerstellige kwessies wat nie in die sentrum van ons belydenis is nie. Dit is naamlik Jesus Christus die gekruisigde, opgestane Heer. Omdat die werk van die Here nogtans ordelik moet verloop, en dissipline gehandhaaf moet word, het ons dan ook 'n bepaalde Beleid waaronder sekere reëls en regulasies voorkom. Aksie Arbeiders vir die Oes behou dan ook die reg om in sy werk die vrymoedigheid te neem om persone wat hulle nie wil onderwerp aan sy reëls en regulasies nie, in broederliefde aan te spreek (Gal 6:1-5; Matt. 18:15-20), en as dit nodig is te tugtig (volgens riglyne in ons heersende Beleid) met die oog op opbou en behoud van die persoon. As die persoon steeds nie 'billik vereiste samewerking' wil gee nie, sal ons met leedwese so 'n persoon of instansie moet vra om te onttrek van die werksaamhede van Aksie Arbeiders vir die Oes. 

As interdenominale sendingorganisasie wil ons mense van die globale kerk, van dit wil sê van verskillende denominasies, by die werk te betrek. As interdenominale organisasie kan ons behalwe die ondersteuningsbetrokkenheid van die kerk, ook instansies uit die sakewêreld betrek om in die werk te belê en by ondersteuning van projekte betrokke te raak. Sodanige instansies raak moeiliker betrokke as die werk aan een spesifieke kerk gekoppel is, of 'n integrale deel van die kerk is. 

 

Organigram >>>

Terug na bo ...

 

Bestuursliggaam en Bestuur 

Aksie Arbeiders vir die Oes se bestuursliggaam bestaan uit 'n dagbestuur met 'n Voorsitter en Ondervoorsitter. Die Voorsitter gee die terugvoer aan die geestelike toesighoudende kerkraad en betrek ook die Adviserende Raad by belangrike besluite, beleidvorming, projekbeplanning en monitering van funksionering. Die Voorsitter lei vergaderings, of wys persone aan om dit te lei. Daar sal gestreef word om onder die voorsitter se leiding volgens 'n beginsel van konsensus te werk ten opsigte van besluitneming. Wanneer die Voorsitter nie beskikbaar is nie, kan hy sy verant-woordelikhede aan die Ondervoorsitter oordra. Die Ondervoorsitter neem ook die verantwoordelikhede vir die interim oor wanneer die Voorsitter ernstig siek of buite aksie is. Die Voorsitter is huidiglik die stigter van die organisasie, J. W. van Jaarsveld en die ondervoorsitter is Ds. Hendrik Pieters wat ook die leier van die Wêreldgodsdienste been en sendingleraar by die RCA Charisma in Laudium is. Die sekretaris / sekretaresse en tessourier sal nóú met die Dagbestuur en / of Bestuursraad saamwerk ten opsigte van die bestuur en administrasie van Aksie Arbeiders vir die Oes. 

Die Dagbestuur nader ook buite-persone van verskillende denominasies en professies wat 'n hart het vir sending en bereid is om insette te lewer by die werk in 'n adviserende hoedanigheid. Hierdie Adviserende Raad bestaan uit die voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris / sekretaresse van Aksie Arbeiders vir die Oes plus sewe tot tien persone van buite af wat die organisasie op verskillende vlakke adviseer rakende alle projekte, finansiële bestuur en beleidsake. Enige verandering van beleidsake word deur die instemming van die Adviserende Raad gedoen. Die Adviserende Raad vergader soos nodig met drie weke vooraf kennisgewing en as riglyn drie maal per jaar. 

Aksie Arbeiders vir die Oes het deeltydse en voltydse lede wat deur die Dagbestuur gekeur word. 

 

Missie: Betrokkemaking van jongmense by God se oeslande in diens van sy Kerk. 

Terug na bo ...

 

Doelstellings

Om God te dien, verheerlik en te gehoorsaam het ons die volgende doelstellings: 

 

Doelwitte

Terug na bo ...

 

'n Multi-Professionele Span 

Omdat ons in 'n stukkende en seer wêreld leef, besef ons dat ons elke moontlike hulp-middel tot ons beskikking moet gebruik in afhanklikheid van God. Aksie Arbeiders vir die Oes het gekies vir 'n holistiese benadering, met ander woorde ons wil nie net die persoon se geestelike lewe aanspreek nie, maar sy hele menswees. Ons glo ook dat dit 'n Bybelse model is wat ons navolg (Jak. 2:14-17; Matt. 9:36-38; Mark 8:1-10; ens). 

Die werkerskorps van Aksie Arbeiders vir die Oes bestaan dan uit 'n groep mense van verskillende studierigtings:- Teologie, Maatskaplike Werk, Sielkunde, Kinderwerk, Musiek, Drama, Ingenieurswese ensovoorts. As span, wil ons in afhanklikheid van God, ons talente inspan om die gemeenskap en so ook God te dien. 

Aksie Arbeiders vir die Oes probeer dan ook sover as moontlik om met persone en instansies buite die organisasie saam te werk tot bevordering van God se saak. Omdat ons besef dat ons nie alleen die werk van God kan doen nie, en dat dit God se werk is en nie ons werk nie, probeer ons in broederliefde, hande te vat met soveel organisasies en mense moontlik. 

 

Projekte by al drie bene

Opleiding 

Een van die belangrikste projekte van Aksie Arbeiders vir die Oes is opleiding. Hierdie projek se doel is om die permanente en deeltydse werkers van Aksie Arbeiders vir die Oes opleiding te gee, sodat hulle in staat sal wees om dit wat hulle doen op 'n professionele vlak te kan doen. Die opleiding spreek sake soos bestuursvaardighede, kommunikasie en leierskapsontwikkeling aan. 

Dissipelskapopleiding word verskaf binne die organisasie maar ook wyer, in die gemeenskap. Hierdie dissipelskapopleiding spreek sake soos etiek en pastoraat, sowel as ander geestelike temas aan. 

Daar word baie klem op Bybelkennis in die organisasie gelê en daarom word van elke lid verwag om 'n erkende Bybelskoolopleiding te deurloop, hetsy intern by die organisasie aangebied, in samewerking met 'n gemeente of buite-instansie aangebied, of 'n erkende eksterne opleiding wat die lid reeds voorheen deurloop het. Die Bybel-skoolopleiding se doel is om die Bybel so toeganklik as moontlik te maak vir die mens op die straat, maar ook om die dieper teologiese temas te ontgin. Verder wil Aksie Arbeiders vir die Oes veral ook gespesialiseerde sendingtoerusting ooreenkomstig sy missie en doelstellings aanbied, waarin die gemeentes ook betrek word. 

Aksie Arbeiders vir die Oes wil elke jaar 'n aantal jongmense 'n geleentheid gee om 'n diensjaar vir die Here, genaamd 'Werk in sy Wingerd' by die organisasie te doen. Die gedagte is dat hierdie diensjaarmense, vir 'n tydperk van minstens een jaar, deurlopend deel aan beide teoretiese opleiding en praktyktoepassing sal hê. Hulle roteer dan tussen die drie bene naamlik Kruiskulturele werk, Stedelike sending en Wêreldgods-dienste waar hulle telkens ook relevante opleiding ontvang. Van die kursusse wat beoog word, waaronder verskillende vertakkinge, is: Kinderwerk; Moslem- en Hindoe-evangelisasie, Straatwerk, Woonstelwerk, Drama & Mimiek, Korttermynsen-dinguitreikings, Algemene Evangelisasie ensovoorts. Aksie Arbeiders vir die Oes sal ook hier van Buite-Organisasies en persone gebruik maak om insette te lewer. 

Al die ander projekte en bedienings is afhanklik van opleiding en daarom gaan mense wat opleiding gee, sowel as die ander werkers van Aksie Arbeiders vir die Oes, gedu-rig gemotiveer word om verder te studeer in die rigting waarvoor die Here hulle geroep het. 

Motivering van Jongmense 

Hierby sluit in die blootstelling, motivering en aanmoediging van jongmense om by Sendingwerk betrokke te raak. Dit word gedoen deur: 

'n Diensjaar vir Christus: "Werk is sy wingerd" 

Aksie Arbeiders vir die Oes wil elke jaar 'n aantal jongmense die kans bied om 'n diensjaar vir die Here by die organisasie te doen genaamd 'Werk in sy Wingerd'. In hierdie jaar sal hulle deel hê aan beide teoretiese opleiding en praktykblootstelling oor 'n wye spektrum van sendinggebeure. Onder meer sal na hulle Bybelskoolopleiding gekyk word asook opleiding in al die bedienings waarin Aksie Arbeiders vir die Oes bedrewe is. Ook sal hulle die kans gegun word om praktiese ondervinding in die middestad met sy multikulturele bevolking en plurale godsdienste op te doen, aan al die projekte deel te neem, en ook op minstens een sendinguitreiking te gaan. Hierdie diensjaarpersone word in drie groepe verdeel en roterend vir ongeveer vier maande sessies deur die jaar aan die drie bene toegeken: Kruiskulturele werk; Middestads-evangelisasie en Wêreldgodsdienste. Terwyl hulle waardevolle diens lewer en 'n werkerskelet vorm, kry hulle waardevolle opleiding en ervaring in drie sleutelareas as voorbereiding vir wêreldsending. 

Uitstallings 

Gedurende verskillende Sendingkonferensies of ander Sendinggeleenthede, stel Aksie Arbeiders vir die Oes tesame met ander Sendingorganisasies sy werk bekend deur middel van visuele materiaal soos fotos, skyfies, en baniere. Die doel van só 'n uitstalling is om gemeentes en die algemene publiek bewus te maak, en betrokke te kry by die werk wat gedoen word. Tipiese voorbeelde is Universiteit Sendingweke, die jaarlikse LSA byeenkomste en Sendingkonferensies by gemeentes. 

Gemeente Optredes 

Gemeente optredes word reg oor die land gedoen om so veel as moontlik mense en gemeentes aan te moedig om betrokke te raak by die Groot Opdrag en opleiding te verskaf om mense en gemeentes te mobiliseer. 

Terug na bo ...

 

Projekte by die kruiskulturele been 

1. Opleiding

4. Goeie Nuus Jeugklubs 

2. Matlala-uitreiking

   4.1 Masemola

3. Matlala Opvolg

   4.2 Marishane 

  3.1 Dissipelskap 

5. Lepelle Gemeente 

  3.2 Gemeenskapwerk 

6. Wêreld uitreikings

Korttermyn Sendinguitreikings 

Verskeie uitreikings word op 'n korttermyn basis geloods deur Aksie Arbeiders vir die Oes, en sluit die volgende in: 

Die "Goeie Nuus Jeugklubs" 

Hierdie Goeie Nuus Jeugklubs funksioneer om jongmense spesifiek blootstelling te gee aan Christene van verskillende kultuurgroepe. Jongmense word aangemoedig om oor kultuur-grense heen as Christene vriendskapsbande te bou, by mekaar betrokke te raak, in mekaar se wel en weë te deel en saam as leiers te ontwikkel. Die gedagte is dat soortgelyke klubs deur die hele gemeenskap oor die hele land sal ontwikkel en dat plaaslike gemeentes intensief hierby betrokke sal raak. Daar is reeds met sulke klubs begin in Mamelodi, Atteridgeville, Masemola en Marishane. Daar word ook gemeenskapsdiens hier verrig deurdat Saterdagskool, drama-klasse, sport en ontspanning, naaldwerk en tuinbou in hierdie gemeenskappe gedoen word. 

Lepelle Gemeente 

Ons gemeente is al vir meer as 25 jaar betrokke by Lepelle gemeente.  Benewens finansiële hulp ondersteun ons ook die werksaamhede van Aksie Arbeiders vir die Oes in Lepelle.  Hulle onderneem elke maand 'n naweek-uitreik daarheen en elke jaar 'n volle week-uitreik.

Lepelle is geleë in die Noordelike Provinsie en spesifiek in die suide van die ou Sentrale Lebowa. Dele van die distrikte Nebo en Sekhukhune val hieronder. Lepelle (ook genoem Goedvertrouwen sending) is 'n werk wat begin is vanuit die NG Gemeente Marble Hall. Op 16 Augustus 1958 is die sendinggemeente Marble Hall met 60 lidmate gestig. Die naam van die gemeente is later vernader na Lepelle, die naam vir die Olifantsrivier in Noord-Sotho. 

Toe die Sinodale Sendningkommissie die gemeente in 1961 begin subsidieer het, het dit moontlik geword om 'n sendeling te beroep en in Maart 1961 is ds. P. Conradie in die pos bevestig. Hy sou in die volgende 14 jaar 'n stewige grondslag vir die jong gemeente lê. Buiteposte met Sondagskole is ontwikkel en werkkragte aangestel. Vroeg in 1967 kon twee swart leraars vir die gemeente beroep word danksy die ondersteuning van die NG Gemeente Lyttelton-Oos. Ds. M.E. Moloto is as medeleraar op Moosrivier geplaas en prop. J.S. Phetla is bevestig en op Strydkraal gevestig. Hy is later opgevolg deur ds. M.L.S. Phatudi. In 1975 het ds. Conradie vertrek en hy is opgevolg deur ds. G.J. Jordaan. Deur die meerdere werkkragte kon die gemeente vinnig groei en in 1981 was daar 1200 belydende lidmate. Op hierdie suidpunt van Lebowa is daar dus ook 'n jong, lewenskragtige gemeente gevestig. 

Op die plaas Goedvertrouwen is daar op 31 Januarie 1959 die Matlala-sendinghospitaal in gebruik geneem as 'n klein hospitaaltjie met 9 pasiënte. Die hospitaal het egter 'n gebied bedien met meer as 100 000 inwoners en het spoedig gegroei tot 'n groot moderne hospitaal met 332 beddens en afdelings vir algemene-, chroniese- en aansteeklike pasiënte. In 1966 is 'n nedersetting vir bejaardes aangrensend aan die hospitaal opgerig met die passende naam Boputswa (gryskoppe). Die nedersetting verskaf inwoning en versorging aan 200 bejaardes in netjiese grasdakrondawels. By albei inrigtings word baie aandag aan geestelike versorging gegee. 

Ná die voltooiing van teologiese studies word Jan van Jaarsveld in 1999 beroep as tentmakerleraar vir Lepelle. Die persoonlike betrokkenheid sowel as dié van Aksie Arbeiders vir die Oes in die area kombineer om groter betrokkenheid in die area te verkry. 

(sien ook Lepelle Distrik Munisipaliteit)

Terug na bo ...

 

Projekte by die stedelike sendingbeen 

1. Opleiding 

2.2 Lofprysing 

2. Kruispad Koffiehuis

2.3 Pastorale sorg 

2.1 Straatwerk

2.4 Gemeenskapwerk

2.1 Woonstelwerk

2.5 Koffiebediening

Kruispad Koffiehuis en Middestadsevangelisasie 

Aksie Arbeiders vir die Oes huur die perseel en bestuur die Kruispad Christelike Koffiehuis op 'n baie strategiese plek in die stad. Met hierdie koffiehuis word verskillende doelwitte bereik.

Eerstens is dit 'n plek waar daar 'n gesellige atmosfeer waar jongmense rondom 'n koppie koffie kan kuier en Christelike gemeenskap kan hê. In die koffiehuis is daar 'n Christelike musiekbediening. Jongmense van alle kerke kan hier saam die Here kom loof en prys.

Tweedens gebruik ons die geleentheid om die jongmense opgewonde te maak oor sending. Hier kry hulle die geleentheid om in te skakel by verskillende projekte in samewerking met hulle gemeentes en ook opleiding te kry in verskillende bedienings. Hier is ook 'n geleentheid om jongmense wat op ander projekte en sendingkampe ingetrek word 'n pad van begeleiding mee te stap.

Derdens gaan hierdie jongmense uit in die gemeenskap vir hulle gemeentes en só word die Koninkryk van God uitgebrei. Akkommodasie word aan gekeurde jongmense, waaronder studente, wat diens doen by die koffiehuisprojekte, beskikbaar gestel in woonstelle langs die koffiehuis. 

 

Kruispad Koffiehuis

h/v Beatrix en Schoemanstrate

Arcadia

Tel: (012) 341-0467

 

Middestadsgemeente projek 

Die NG Gemeente Pretoria se Arcadia kerk lê in die metropolitaanse gebiede van Arcadia, Meintjieskop en kring uit na Sunnyside en Pretoria-Sentraal. Hierdie gebiede ondergaan 'n groot verandering deurdat die bevolkingsamestelling, vanweë veral die groot aantal lande se ambassades in die omgewing, en die polities veranderende klimaat, uiters kompleks raak. Daarbenewens is dit die sentrum van die tiener- en jongmenslewe en die kern van Pretoria. 

Vir die Christen bied bogenoemde 'n geweldige uitdaging en geleentheid duisend vir omvattende middestadsevangelisasie. Die NG Gemeente Arcadia het Aksie Arbeiders vir die Oes genader, as 'n interdenominale sendingorganisasie, om sendingprojekte in en buite die gemeente te koördineer. Só val die Kruispad Koffiehuis ook in hierdie area en word van die projekte buite die gemeente ook daar hanteer. 

Vanweë die teenwoordigheid van só 'n verskeidenheid kulture en godsdienste in hierdie metropoolgebied, verleen die omgewing hom uitstekend vir die blootstelling aan, en toerusting van Christen jongmense met die oog op wêreldevangelisasie. Dit is die wesentlike doelwit van Aksie Arbeiders vir die Oes. 

Binne die Gemeente sal Aksie Arbeiders vir die Oes, in samewerking daarmee, verantwoordelik wees vir die volgende:

Terug na bo ...

 

Projekte by die Wêreldsendingbeen 

1. Opleiding

 4. Boeddhiste uitreiking

2. Moslem uitreiking

5. Internetskakeling

3. Hindoe uitreiking

 

Moslem-, Hindu- en Boeddhiste uitreiking 

Hier word opleiding aangebied in drie van die grootste wêreldgodsdienste naamlik Islam. Hinduïsme en Boeddhisme. Geleentheid word ook gebied om uit te reik en vriende te maak met mense wat hierdie godsdienste beoefen sodat die mense, hulle kultuur en godsdiens leer ken word. Enersyds is dit, soos ook by die ander twee bene, 'n doel op sigself om mense te bereik met die evangelie van verlossing in Jesus Christus in die gekose gebiede van betrok-kenheid. Andersyds word aan jongmense wat as werkers optree ook die geleentheid gebied om kennis en ervaring op te doen rakende Moslems, Hindoes en Boeddhisme en kan dit ook dien as voorbereiding vir langer termyn betrokkenheid elders, soos in die 10-40 venster. 

Internet skakeling 

Vandag kan mens via die internet 'n magdom inligting van mense en godsdienste van regoor die wêreld bekom. Daar is ook geleentheid om met mense deur middel van elektroniese pos in gesprek te tree. E-pos en internet gespreksforums is 'n geleentheid om te getuig en feitelike inligting omtrent die evangelie van verlossing in Jesus Christus en die Bybel deur te gee. Dit is al gesê dat hierdie moderne vorm van kommunikasie Moslems byvoorbeeld minder bedreig laat voel en meer laat toetree tot gesprek en stimuleer om vrae te vra. Hierdie kommunikasiemedium bring mee dat kontak met mense oor die hele wêreld gemaak kan word vanuit 'n plaaslike kantoor teen die koste van 'n lokale oproep. 

Terug na bo ...

 

Bedienings 

Die bedienings waarop Aksie Arbeiders vir die Oes hom toespits bied geleenthede vir gelowiges om hulle onderskeie gawes uit te leef. Die bedieninge is realisties, prakties en uitvoerbaar in 'n behoeftige en gebroke wêreld. Die bedienings funksioneer by een of meer van die drie bene. Die verskeie bedienings sien soos volg daarna uit: 

Kinderwerk 

By Kruispad wil ons graag by die straatkinders betrokke wees en met ander instansies saamwerk soos Kindersorg se Ithumaleng-projek in Vosstraat en self by die Ratha-nanghuis in Schoemanstraat skuinsoor Kruispad. In die woonstelle moet 'n uitkringende netwerk van kinderklubs tot stand gebring word. Ook hier sal ons graag met bestaande instansies wil saamwerk wat 'n kinderbediening in die middestad het en aanvul eerder as dupliseer. By die Hierdie kinderklubs word op 'n gereelde basis vir die kinders aangebied en is veral ook gemik op hulle geestelike heil en sendingvisie. Daar is ook projekte met die straatkinders. 

Drama, mimiek en sang 

Hierdie kunsvorme is baie effektief in die uitdra van die evangelie. Dit word gebruik in korttermynuitreikings, straatwerk en optredes by skole. Voltydse werkers in drama en musiek neem leiding en bied opleiding aan in hierdie rigtings. 

Straatwerk 

Dit is 'n omvattende begrip en sluit baie ander bedieninge in. Evangelisasie, Drama en Mimiek, Gemeenskapsprojekte en ander projekte word hierby geïnkorporeer. Straat-werk word gedoen by besige winkelsentrums en vermaaklikheidsplekke in en rondom die stad. Werkers kry die geleentheid om in hulle eie woongebied blootgestel te word aan persone uit verskillende agtergrond, geloofsoortuiging en kultuur. Sodanige perso-ne word dan genader en die Evangelie van Jesus Christus word aan hom voorgehou. So ver moontlik word gefokus op vriendskapsevangelisasie en dieselfde persone word hehaaldelik opgesoek vir verdere opvolgwerk. 'n Verdere oogmerk sal wees om ge-meentes so veel as moontlik hierby te betrek. 

Woonstelwerk 

Aksie Arbeiders vir die Oes het gekies vir vriendskapsevangelisasie, ook wat die woonstelwerk betref. Ons doel is om 'n woonstelblok te neem en dan stelselmatig deur die hele woonstelblok te gaan. Die spanne wat uitgaan sal elkeen na 'n spesifieke woonstel gaan met die doel om vriende te maak. Dit sal ook terselfdertyd dien om 'n opname te maak oor wie waar woon en wat hulle godsdienstige oortuiging is. Al hierdie inligting sal op rekenaar gesit word en kerke sal in kennis gestel word van hulle lidmate. Daar sal ook gepoog word om gemeentes betrokke te maak by hierdie werk en hulle ook te help om 'n beleid te omtwikkel en 'n struktuur te skep vir anderstaliges. 

Indien moontlik sal daar dan ook 'n pad van dissipelskap met die mense gestap word. Die doel sal wees om bybelstudiegroepe te stig binne die verskillende geboue. Dit sal veroorsaak dat gelowiges sal weet waar hulle ondersteuningskorps is sowel as om mekaar beter te leer ken. Hierdie bybelstudiegroepe se doel is ook om mense op te roep tot dissipels en sendelinge. 

Daar word beoog om in elke woonstelblok 'n plaaslike leier aan te stel wat verdere opleiding sal ontvang. Opleiding sal rondom die Bybelstudie sowel as sending wees. Dit sal die leier se verantwoordelikheid wees om die werk te koördineer. 

Pastoraat 

Aksie Arbeiders vir die Oes het 'n pastorale spreekkamer beskikbaar vir die gebruik van die gemeenskap sonder dat daar enige finansiële verpligtinge is. Aksie Arbeiders vir die Oes sal dan gebruik maak van teologiese studente en persone wat pastorale opleiding gedoen het om altyd beskikbaar te wees vir die taak. Ons sou graag wou sien dat gemeentes ook by hierdie projek inskakel! 

Gebed 

Die manier waarmee God almal betrek by Evangelisasie- en Sendingwerk is gebed. Gebed is egter 'n onmisbare element by enige bediening of projek en Aksie Arbeiders vir die Oes wil hom daarop toespits om so veel as moontlik mense by hierdie heerlike voorreg van Voorbidding te betrek. Mense wat direk of indirek by Aksie Arbeiders vir die Oes betrokke is, word aangemoedig om so veel as moontlik tyd in gebed te bestee, en so die opdrag van Jesus Christus na te kom om te bid dat God se Koninkryk hier op aarde sal kom, en dat Hy arbeiders sal uitstuur vir sy Oes. 

Tegnies 

Die tegniese vaardighede van persone word op verskillende wyses aangewend om bedieninge glad te laat verloop. Die beheer, kontrole en instandhouding van elektriese, meganiese en ander toerusting speel 'n belangrike rol by byvoorbeeld die vertoon van die Jesus-film, verhoogoprigting en vervoer van uitreikspanne na verskillende areas. 

Evangelisasie 

Hierdie bediening is net so omvattend en vorm die hartklop van alle aktiwiteite wat aangepak word. Aksie Arbeiders vir die Oes glo en besef dat die enige ware versoening van mens met God, deur die Evangelie van Jesus, soos in die Skrif opgeteken staan, moontlik is. Vandaar die motief om Evangelisasiewerk te doen oor kultuur- en woongebiedgrense. 

Tienerwerk 

Aksie Arbeiders vir die Oes sal deur die koffiehuis en hulle Goeie Nuus Jeugklubs probeer om die tieners te trek na 'n geestelike program. Dit is nie ons doel om die tieners bloot te vermaak nie, maar om met hulle 'n geestelike pad te stap. Tieners sal gemotiveer word om deel te neem aan al die verskillende projekte en bedienings, maar daar sal ook geleenthede gereël word wat spesifiek aan die behoeftes van die tieners sal voldoen. 

Bejaardes 

Bejaardes vorm 'n belangrike deel van die gemeenskap. Ons wil hulle graag bewus maak daarvan dat die Here hulle nog steeds kan gebruik en dat hulle tyd, ondervinding en liefde baie waardevol is, veral in terme van gebedsondersteuning. Op ons beurt wil ons hulle bemoedig en is ons beskikbaar vir hulle.

 

Terug na bo ...

Die vyf vertrekke ...

Voorkamer

Woonkamer

Eetkamer

Studeerkamer

Kombuis

Buitenshuis

Bedieningsgids (PDF 304kb)

Terug na bedieninge